BOSVELDSIG

Jou gemoedsrus in die bosveld

Bosveldsig se ontstaan was ’n direkte vloei uit ons vorige twee ontwikkelings nl. Ribbokrant (20 eenhede) en Zebrapark (26 eenhede). Die vraag na die tiepe aftree behuising in Modimolle (Nylstroom), met sy wonderlike klimaat, het stelselmatig toegeneem tot so ‘n mate dat nog ’n groter aftree oord nodig was om te voorsien in die behoefte. Bosveldsig het in 1995 begin en oor die jare het die ontwikkeling gegroei tot die volwaardige en veilige oord wat dit vandag is. Die doelwit van Bosveldsig was om ruim eenhede vir inwoners te bied, geleenthede te skep vir inwoners om vergete stokperdjies te hervat en om nuwe vriendskappe te bou.

Bosveldsig was een van die eerste oorde in sy soort in die mooi Bosveld en sedert 1996, toe die eerste inwoners hul intrek geneem het, is die oord ’n voorloper en ’n baie gewilde aftree tuiste.

MODIMOLLE/NYLSTROOM is ‘n bekoorlike plattelandse dorp met skoon, onbesoedelde lug en pragtige natuurskoon. Die dorp lê een en ‘n half uur se ry noord van Pretoria met ‘n gerieflike snelweg. Nylstroom het ‘n baie aangename, gelykmatige klimaat met koel someraande en warm wintersdae.

BOSVELDSIG bestaan uit agt fases met ‘n totaal van 408 huise. Sewe fases is reeds voltooi en ons is tans besig met die laaste fase. Elke fase is afsonderlik beveilig met sy eie veiligheids omheining, outomatiese beheerde hek en interkomstelsel.

Ses van die agt fases het ‘n ouderdoms beperking van ouer as 50 jaar met geen afhanklikes; een fase het ‘n ouderdoms beperking van ouer as 18 jaar en een fase het geen ouderdoms beperking nie. Die verskillende beperkings maak dit moontlik vir jonger werkende persone om ook ‘n goeie belegging te bekom of vroegtydig te belê in ’n aftree eiendom. Die eiendom kan verhuur word aan persone wat voldoen aan die ouderdoms beperking van die betrokke fase.

Die koper ontvang voltitel, wat beteken dat alle waardestygings die eienaar toekom. Die stadsraad is verantwoordelik vir die instandhouding van die paaie, straatligte en ander dienste in die fases. Die toegangshek en interkomstelsel behoort aan die inwoners van die betrokke fase en gevolglik is hulle verantwoordelik vir die instandhouding van die hek. Elke fase het ’n afsonderlike klein kommitee wat omsien na die onderhoud van die betrokke fase en elke fase bepaal ook self die hek fooi wat betaalbaar is vir die instandhouding. Dit wissel van R25 tot R50 per maand, afhangende van die fase.